Verskeie skole in Namakwa het Vrydag aan kerslig-herdenkings-seremonies deelgeneem om ondersteuning te toon aan families en persone wat deur tragedies geraak is, asook om diegene te herdenk wat hul lewens verloor het.
Onder die skole was Concordia Primêr en die Kleinzee Sentrum vir Leer en Ontwikkeling, waar leerders, opvoeders en gemeenskapslede saam stilgestaan het in ’n boodskap van hoop, medelye en eenheid.
Volgens die skole het die seremonies ook gedien as bewusmakingsinisiatiewe om die belangrikheid van ondersteuning, omgee en gemeenskapsamehorigheid te beklemtoon. Kerse is aangesteek as simboliese gebaar van hoop en herinnering.