’n Gevangene wat verlede week in ’n motorongeluk op die R31 tussen Danielskuil en Kuruman beseer is, het Maandagaand in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die ongeluk het op 28 Mei plaasgevind toe 13 gevangenes na die hof in Kuruman vervoer is. ’n Sersant van die Danielskuil-speureenheid is op die toneel dood, terwyl ’n speurkonstabel beseer is en steeds behandeling ontvang. Volgens polisiewoordvoerder, Cherelle Ehlers, is tien gevangenes reeds ontslaan, terwyl twee steeds in die hospitaal behandel word.