'n 63-jarige Noord-Kaapse man is tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot verkragting van 'n sewejarige meisie in Januarie 2024. Die man het probeer om die minderjarige by sy huis te verkrag, nadat hy haar versoek het om na sy huis te kom om skottelgoed te was. Die moeder van die minderjarige het die voorval by die polisie aangemeld wat tot die inhegtenisneming van die Kuruman-man gelei het. "Terwyl sy besig was om skottelgoed te was, het die beskuldigde haar na sy slaapkamer geneem waar hy uitgetrek en probeer het om haar te verkrag. Sy pogings het misluk en die slagoffer het begin huil. Die beskuldigde is skuldig bevind aan poging tot verkragting en tot tien jaar direkte gevangenisstraf gevonnis deur die streekhof in Kuruman. Daarbenewens sal sy naam in die nasionale register van seksuele oortreders geregistreer word, en hy is as onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit," het Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.