Die polisie ondersoek 'n saak van roekelose en nalatige bestuur ná 'n botsing tussen twee voertuie op die R382 by Fourway in Steinkopf.
Volgens die Namakwa Distrikskommissaris se kantoor het die voorval Sondagaand omstreeks 18:50 plaasgevind. SAPD-lede het op die toneel gereageer waar twee voertuie in 'n botsing betrokke was. 'n Vroulike passasier het ernstige beserings opgedoen, terwyl drie manlike passasiers lig beseer is.
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur is vir verdere ondersoek geopen. Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting oor die botsing om konstabel Elaine Paul of die SAPD se Crime Stop-lyn te kontak.