Ekapa Minerals in Kimberley is onder sakeredding geplaas nadat die Noord-Kaapse Hooggeregshof die myn se aansoek om voorlopige likwidasie van die hand gewys het. Die besluit volg ná 'n modderstormloop waarin vyf werkers in Februarie omgekom het en meer as 1 000 werknemers hul werk verloor het. Die metaalwerkersvakbond Numsa verwelkom die uitspraak en sê sakeredding bied hoop vir die hervatting van bedrywighede, die beskerming van werkgeleenthede, die betaling van krediteure en 'n volhoubare herstrukturering van die myn.