Raadslid Charlotte Visser het haar dank en waardering uitgespreek teenoor die skoolbestuurder, personeel en leerders van Hoërskool Concordia wat aan die Blikkieprojek deelneem. Volgens Visser speel die projek ’n belangrike rol om die dorp skoon te hou en leerders bewus te maak van die waarde van herwinning. Sy het benadruk dat herwinning nie net ekonomiese voordele kan inhou nie, maar ook tot ’n skoner en gesonder omgewing bydra. Visser het die gemeenskap aangemoedig om herwinbare materiaal te hergebruik of te verkoop, en ’n beroep op inwoners gedoen om nie onwettige items te verhandel nie.