Die Noord-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het 53 maatskaplike werkers op kontrak aangestel om frontliniedienste in die provinsie se vyf distrikte te versterk.

Dit volg op die aanstelling van 44 maatskaplike werkers vroeër vanjaar om personeeltekorte aan te spreek.

Die nuwe maatskaplike werkers sal onder meer skoolgebaseerde maatskaplike werk, herstellende dienste en verligtingsorg aan kinders met bykomende behoeftes lewer.

Volgens die departement is die doel om toegang tot ondersteuning te verbeter, vroeë intervensie te versterk en kwesbare kinders en gesinne by te staan.