’n 29-jarige man is in die Mothibistad Streekhof tot ’n effektiewe 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy ’n vrou met ’n sambok aangerand en sewe dae later sy 10-jarige stiefdogter verkrag het.
Die voorvalle het onderskeidelik op 10 en 17 Maart 2023 in Danoon naby Kuruman plaasgevind.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag het die man die kind onder die voorwendsel geneem om saam met hom winkel toe te gaan, maar haar na ’n afgeleë gebied geneem, waar hy haar met ’n sambok aangerand en gedreig het voordat hy haar verkrag het.
Die kind het daarin geslaag om te ontsnap en die voorval aan haar tante te rapporteer. Die man is op 22 Maart 2023 in hegtenis geneem en het in aanhouding gebly tot die saak afgehandel is.
Die hof het onder meer sy ouderdom, gebrek aan vorige veroordelings en tydperk in aanhouding in ag geneem en van die voorgeskrewe lewenslange vonnis vir verkragting afgewyk.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit, en sy naam sal op die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders geplaas word. Hy is verder onbevoeg verklaar om met kinders te werk.