Die SAPD in die Noord-Kaap waarsku inwoners teen verskeie aanlyn- en finansiële swendelary, veral nou dat handelsaktiwiteite gedurende die feestyd toeneem.
Die polisie sê bedrieërs gebruik onder meer sosiale media, WhatsApp, mobiele toepassings en elektroniese kommunikasie om mense se geld en persoonlike inligting te bekom. Beleggings-, banks-, aanlyn-afspraak- en vals prys-swendelary is van die bedrog waarmee inwoners geteiken word.
Inwoners word aangeraai om nooit hul bankbesonderhede, PIN, wagwoorde of eenmalige wagwoorde met ander te deel nie. Hulle moet ook verdagte skakels vermy, beleggingsgeleenthede eers deeglik verifieer en nie geld betaal om sogenaamde pryse of winnings te ontvang nie.
Die SAPD waarsku ook dat mense wat hulle aanlyn ontmoet, moontlik nie is wie hulle voorgee om te wees nie.
Enigiemand wat vermoed dat hulle ’n slagoffer van bedrog is, moet onmiddellik hul finansiële instelling kontak en die saak by die naaste polisiestasie aanmeld.
Die polisie sê inwoners moet veral versigtig wees vir aanbiedinge wat te goed klink om waar te wees en eers verifieer voordat hulle vertrou of betaal.