Die SAPD het drie mans in afsonderlike dwelmoperasies in die Alexanderbaai- en Kuboes-gebied in hegtenis geneem.

Die eerste arrestasie het Vrydagmiddag, 13 November, gevolg nadat polisie-inligting van ’n gemeenskapslid opgevolg het. ’n Taxi wat van Port Nolloth na Alexanderbaai onderweg was, is onderskep en deursoek. Dagga is glo in die besit van ’n 27-jarige passasier gevind.

Later dieselfde middag is ’n 35-jarige man in Kuboes in hegtenis geneem op ’n aanklag van dwelmhandel. Die dwelms wat tydens die operasie beslag gelê is, het volgens die SAPD ’n geraamde straatwaarde van R3 220.

’n Verdere deursoeking is dié aand by die Alexcor-koshuise in Alexanderbaai uitgevoer, waar ’n 43-jarige man weens die besit van dwelms in hegtenis geneem is.

Al drie verdagtes sal na verwagting binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.

Die Namakwa-distriksbevelvoerder, brigadier Schalk Andrews, het gemeenskapslede ook aangemoedig om voort te gaan om inligting oor dwelmverwante misdaad met die polisie te deel.