Die polisie sê die operasie het gevolg nadat inligting van Misdaadintelligensie ontvang is oor ’n voertuig wat na bewering gebruik word om beskermde vetplante in die Steinkopf-omgewing te versamel.
Lede van Steinkopf SAPD, Springbok K9 en die Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid het vroeg Sondagoggend, 22 November, ’n minibustaxi met drie insittendes en ’n Toyota Hilux met twee insittendes voorgekeer.
Tydens die deursoeking is ’n groot hoeveelheid beskermde vetplante in die minibustaxi gevind. Al vyf mans is in hegtenis geneem en die twee voertuie is gekonfiskeer.
Die verdagtes, tussen 41 en 61 jaar oud, bestaan uit drie Suid-Afrikaanse burgers en twee buitelandse burgers. ’n Saak is ingevolge Artikels 50 en 51 van die Noord-Kaapse Natuurbewaringswet van 2009 geregistreer.
Die verdagtes bly in polisie-aanhouding en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die waarde van die gekonfiskeerde plante moet nog bepaal word.
Die ondersoek word deur die Springbok Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid hanteer.