Die voorstel vra dat Curro die moontlikheid ondersoek om ’n skool in Springbok te vestig wat leerders tot matriek kan bedien, met onder meer wiskunde, wetenskap, robotika, digitale vaardighede en sport as fokusareas.

Die inisiatief sluit ’n aanlyn vraelys en petisie in waarmee ouers gevra word om hul mening te gee oor die behoefte aan so ’n skool. Daar word ook gevra hoeveel gesinne tans aan skool- en koshuisgelde bestee en hoeveel kinders buite die streek skoolgaan.

Volgens die voorstel is daar Namakwa-gesinne wat hul kinders na koshuise en skole buite die provinsie stuur, onder meer na die Wes-Kaap. Die doel van die behoeftebepaling is om vas te stel of daar genoeg plaaslike belangstelling is om gesprekke oor ’n moontlike skool te regverdig.

Dr. Gustav Bock, wat die voorstel versprei, sê die inisiatief dateer uit 2022 en kan ook gebruik word om met die Departement van Basiese Onderwys oor verdere opsies te gesprek.

Die voorstel sluit ’n moontlike befondsingsmodel in waar beurse vir talentvolle leerders uit laerinkomstegesinne deur verskillende rolspelers ondersteun kan word.

Daar is egter nog geen bevestiging dat Curro ’n skool in Springbok gaan oprig nie. Curro is sedert Januarie 2026 ’n niewinsgewende maatskappy nadat die vorige Curro Holdings van die JSE gedelisteer is, en handel nou as die Mouton Education Foundation NPC.

Die huidige inisiatief is dus daarop gerig om eers die plaaslike vraag na ’n Engelse-medium onafhanklike skool te bepaal voordat enige verdere voorstelle of gesprekke gevoer word.

Bock is tans die leier van die Namakwa Civic Movement en is ná die plaaslike regeringsverkiesing deel van die nuwe politieke magsverhouding in Nama Khoi.