Genl. Bheki Cele, die minister van polisie, het gister in Noordwes saam met genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, hul laaste eer betoon aan een van die polisiebeamptes wat vandeesweek in Kimberley doodgeskiet is. Sers. Kedimetse Masilo (45) is verlede week saam met konst. Okaetse Mandindi doodgeskiet terwyl hulle 'n gesteelde voertuig in Kimberley opgespoor het. Sersant Masilo sal op haar tuisdorp, Schweizer-Reneke, begrawe word. Die begrafnis het gister om 07:00 in die Ipelegeng-saal op dié dorp in Noordwes plaasgevind. Die verdagte, die 38 jarige Daniel Wilfred Alberts, is in hegtenis geneem kort ná die beweerde kaping van ’n Transnet-voertuig en die noodlottige skietvoorval waartydens Masilo en Mandindi dood is. Lirandzu Themba, woordvoerder van die polisieministerie, sê in ’n verklaring Cele en Masemola het Woensdag die naasbestaandes in Kimberley besoek. Cele het gesê die inhegtenisneming van die verdagte kan ongelukkig nie die beamptes terugbring nie. Hy het bygevoeg dat die verdagte al talle botsings met die gereg in ander dele van die land gehad het en agter tralies moes bly.