Die polisie in die Noord-Kaap het ’n vermeende 44 jarige dwelmhandelaar aangekeer en beslag gelê op meer as 300ton hidroponiese dagga, wapens en ammunisie. Dit volg nadat inligting ontvang is oor ’n dwelmbesending wat Maandag per koerierdiens na Upington gestuur sou word. Lede van Upington se grenspolisie het die inligting opgevolg en is na ’n plaas in die Kenhardt-omgewing waar hulle op ’n uitgebreide daggakwekery afgekom het. Altesame 302 395 kg verwerkte hidroponiese dagga met ’n waarde van R47 miljoen is op beslag gelê, asook 5 885 kg dagga met ’n straatwaarde van R918 060 en 872 daggaplante van R87 200. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, sê die man sal binnekort in die hof verskyn.