Die man wat aangekla word van die moord op twee blitspatrollielede van Kimberley in Augustus, verskyn vandag in die plaaslike landdroshof nadat hy vir sielkundige waarneming verwys is. Die 38 jarige Daniel Wilfred Alberts was op ’n waglys en kon eers agt maande ná sy arrestasie vir sielkundige waarneming opgeneem word. Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in tientalle psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, een van diefstal van ’n motorvoertuig asook een van diefstal van ’n skootrekenaar. Die 35 jarige Konstabel Okaetse Mandindi en die 45 jarige sersant Kedimetse Masilo van die Kimberley-blitspatrollie was op 22 Augustus besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.