Die Keimoes-streekhof in die Noord-Kaap het ‘n 29-jarige man tot 32 jaar direkte gevangenisstraf vir verskeie misdade gevonnis. Siphozonke Dingisweni is in 2023 vir moord en roof met verswarende omstandighede in hegtenis geneem. Ondersoeke toon dat Dingisweni in 2022 die oorlede Zimbabwiese burger, Nelson Malumbo, gevra het om hom na die veld te vergesel waar hy sy skape wou bymekaarmaak. Met sy aankoms by die veld het Dingisweni Malumbo aangeval, hom van sy selfoon beroof en hom verskeie kere in die bors gesteek. Die polisie sê Dingisweni het ook sy meisie aangerand nadat hy haar daarvan beskuldig het dat sy in ‘n verhouding met Malumbo is.