Die saak teen die voormalige finansiële bestuurder van die Noord-Kaapse Krieketunie is in Kimberley se handelshof afgehandel toe hy vier jaar tronkstraf opgelê is. Die 25 jarige Jean Pierre van Niekerk is gevonnis op aanklagte van bedrog, alternatiewelik diefstal. Vir aanklagte 1 tot 40 is hy vier jaar direkte gevangenisstraf opgelê, maar vir aanklagte 40 tot 80 het hy 12 maande gekry wat geheel en al vir vyf jaar opgeskort is. “Die gevangenisstraf van 12 maande is opgeskort op voorwaarde dat Van Niekerk nie tydens hierdie opskorting aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie,” sê Tebogo Thebe, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder. Van Niekerk het die eerste keer in Desember 2023 in die hof verskyn, nadat hy deur die Valke in hegtenis geneem is vir alternatiewe bedrogdiefstal.