Twee polisie beamptes wat by die Kimberley-landdroshof gestasioneer is, is gisteroggend op aanklagte van korrupsie, regsverydeling en diefstal in hegtenis geneem. Daar word beweer dat die beamptes omkoopgeld ontvang het in ruil daarvoor dat hulle smokkelgoedere, insluitend wapens en dwelms, aan verdagtes in die aanhoudingselle verskaf het. Die Suid- Afrikaanse polisie se provinsiale woordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, het gesê die twee lede, wat albei sersante en 43 jaar oud is, is deur die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid in hegtenis geneem. “Daar word beweer dat die paar geld ontvang het omdat hulle gevangenes van pakkies in die aanhoudingselle by die hof voorsien het. Ondersoeke duur voort,” het Ehlers gesê.