Altesame 13 verdagtes is die naweek op Upington aangekeer vir uiteenlopende misdade. Die aanklagte wissel van aanranding met die opset om ernstig te beseer, dwelmhandel en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. ’n Ongedokumenteerde buitelander is ook vasgetrek. Operasie Shanela, wat deur die Noord-Kaapse taakspan en plaaslike polisielede van Upington en omliggende gebiede uitgevoer is, het Saterdag (24/8) aansienlike sukses behaal. Die span het twee verdagtes in die ZF Mgcawu-distrik opgespoor wat gesoek is vir aanranding met die opset om ernstig te beseer. “Die lede het voortgegaan met soek- en beslagleggingsoperasies in die Paballelo-omgewing waartydens vyf huise deursoek is,” sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.