Die Namaqua-distrik maak 'n beduidende impak om dwelmverkope te beperk met voortdurende ontwrigtende aksies waar beslag gelê is op dagga ter waarde van ongeveer R12 000-00. Die Springbok Openbare Orde Polisie C-Platoon het tussen 11 en 12 Februarie 2025 voertuigpatrollies, stop- en deursoekaksies en besoeke aan brandpuntgebiede in Springbok en Nababeep uitgevoer. “Die lede het inligting opgevolg en beslag gelê op die dagga wat langs die N7-pad naby Springbok geberg was. Geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Luitenant Kolonel Sergio Kock gesê. Die ondersoek duur egter voort. Die polisie sal onverpoosd voortgaan met hierdie optrede en dwelmverkope bekamp terwyl geen steen onaangeroer gelaat word om te verseker dat geen straffeloosheid aan misdadigers in die Noord-Kaap provinsie toegestaan word nie.