’n 30-jarige man is in die Springbok Streekhof tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan twee aanklagte van strafbare manslag.

Robin-Lee Appolis is skuldig bevind ná ’n ongeluk in Oktober 2020 op die Homeb-pad naby Concordia, waarin twee kinders dood is toe hy beheer oor ’n bakkie verloor het.

Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat ’n effektiewe ses jaar tronkstraf beteken.

Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die uitspraak verwelkom en die ondersoekspan geloof.