Emile Danver Saal, 29, ook bekend as “Mielies”, is tot ’n effektiewe tien jaar gevangenisstraf gevonnis vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal, asook poging tot moord.
Die Springbokse Streekhof, wat in Port Nolloth gesit het, het onlangs die vonnis opgelê ná ’n voorval by ’n woning in Concordia op 29 November 2023.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, het Saal en die klaagster mekaar deur Facebook Messenger geken.
Die vrou was alleen by haar ouma se woning nadat sy gebad het en besig was om haar slaapklere aan te trek toe Saal deur ’n badkamervenster toegang tot die huis verkry het.
Senokoatsane sê Saal het die vrou van agter aangeval, haar gewurg en met ’n mes gesteek. Tydens die worsteling het sy hom herken. Hy het voortgegaan om haar te steek voordat sy daarin kon slaag om van hom los te kom en uit die huis te ontsnap.
’n Buurman het haar te hulp gesnel en haar veilig gehou totdat haar ma opgedaag het. Die polisie en ambulansdienste is ontbied, waarna die vrou na die Dr Izak van Niekerk-hospitaal geneem is vir behandeling.
Skuld erken en vonnis opgelêSaal is op 30 November 2023 in hegtenis geneem en het in aanhouding gebly totdat die verhoor afgehandel is.
Volgens die NVG het hy skuld op albei aanklagte erken. Hy het onder meer erken dat hy die woning binnegegaan het met die bedoeling om die vrou se selfoon te steel en dat hy haar beseer het nadat hy haar onverwags in die huis aangetref het.
Hy het ook erken dat die aanval onuitgelok en ongeregverdig was, dat hy geweet het sy optrede haar lewe in gevaar kon stel en dat sy eie lewe nie bedreig was nie.
Die hof het bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede was om van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir poging tot moord af te wyk. Dit het onder meer Saal se tydperk in aanhouding sedert November 2023, sy skulderkenning en persoonlike omstandighede in ag geneem.
Hy is drie jaar gevangenisstraf opgelê vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal, en 15 jaar vir poging tot moord. Vyf jaar van laasgenoemde vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie gedurende dié tydperk aan onder meer aanranding, aanranding met die opset om ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak of poging tot moord skuldig bevind word nie.
Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat op ’n effektiewe vonnis van tien jaar neerkom.
Saal is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en ongeskik verklaar om met kinders te werk, ingevolge die toepaslike wetgewing wat tydens die vonnisverrigtinge aangehaal is.
Die NVG sê hy bly verbind tot die vervolging van geweldsmisdade en om oortreders aanspreeklik te hou vir hul optrede.