Polisie in die Namakwa-distrik het op 2 April beslag gelê op dwelms ter waarde van bykans R400 000 tydens twee afsonderlike voorvalle in Springbok.

In die eerste geval is ’n 42-jarige man in hegtenis geneem nadat hy ’n verdagte pakkie by ’n winkel opgetel het. Hy het probeer vlug, maar is vasgetrek en met dagga ter waarde van sowat R364 000 betrap.

In ’n tweede voorval op die N7 is ’n 56-jarige man gearresteer nadat polisie ’n taxi gestop en hom met mandrax-tablette van ongeveer R30 000 in sy besit gevind het.

Beide verdagtes sal binnekort in die hof verskyn. Distrikskommissaris brigadier Schalk Andrews het lede geloof vir hul volgehoue optrede en gewaarsku dat daar geen veilige roete vir dwelms deur Namakwa is nie.