Die Departement van Vervoer, Veiligheid en Skakeling in die Noord-Kaap sê wetstoepassing bly verskerp namate die Paasnaweek tot ’n einde kom en verkeer op hoofroetes toeneem.

Motoriste, voetgangers en fietsryers word gemaan om uiters waaksaam te wees op roetes soos die N12, N8, N14 en R31, waar ’n groter verkeersvloei verwag word.

Owerhede sê daar was die afgelope naweek ’n merkbare toename in bestuurders wat onder die invloed van alkohol bestuur, en waarsku dat streng optrede voortgesit sal word.

Padgebruikers word aangemoedig om geduldig te wees, spoed te beperk en verantwoordelik op te tree, terwyl beamptes steeds sigbaar ontplooi bly by padblokkades en strategiese punte regoor die provinsie.