Die polisie in die Noord-Kaap het ’n 27-jarige vrou in hegtenis geneem vir die beweerde besit van dwelms wat in haar baba se doek versteek was. Volgens die SAPD het Riemvasmaak-polisie inligting ontvang dat die vrou van Vredesvallei na Augrabies gereis het om dwelms te koop terwyl sy ’n baba gedra het. Die inligting is met Augrabies-polisie gedeel, waarna ’n gesamentlike operasie uitgevoer is. Dagga en tik is tydens ’n deursoeking ontdek. Sy sal na verwagting Vrydag in die Augrabies-landdroshof verskyn.