Die families van die oorlede Farren Maarman, ook bekend as “Koekie”, en lede van die Garies-gemeenskap doen ’n beroep op die vervolgingsgesag om borgtog teen die aangeklaagde, Quinton Cloete, teë te staan.
In ’n petisie aan die vervolgingsgesag vra die families, waaronder die Links-, Maarman- en Willems-families, dat hul bekommernisse in ag geneem word en dat die tersaaklike feite en omstandighede aan die hof voorgelê word vir oorweging ooreenkomstig die wet.
Maarman (27) is op Sondag 11 Oktober dood ná ’n voorval omstreeks middernag in Hoofstraat, Garies. Volgens ’n verklaring van die Namakwa-distrikskommissaris het die polisiebeamptes wat op die toneel aangekom het, haar liggaam langs ’n voertuig aangetref.
Cloete (38), ’n polisielid verbonde aan die Garies-polisie, is in hegtenis geneem en aangekla van strafbare manslag en die bestuur van ’n voertuig onder die invloed van alkohol.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) is oor die voorval in kennis gestel, en die ondersoek duur voort.
Die families en gemeenskapslede doen met hul petisie ’n beroep op geregtigheid vir Maarman. Hulle vra dat die vervolgingsgesag hul versoek om borgtog teen te staan, oorweeg.