Twee broers van Concordia is elk tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 14-jarige meisie.
Die 37- en 40-jarige mans is op 5 November deur die Springbok Streekhof aan verkragting skuldig bevind en die volgende dag gevonnis.
Die voorval het op 5 April 2024 plaasgevind toe die meisie, wat ’n leerder was, in die aand op pad huis toe was. Volgens getuienis wat in die hof aangebied is, het die twee mans haar agtervolg, oorrompel en seksueel aangerand.
Die meisie het die saak aangemeld en is medies ondersoek. Die twee verdagtes is die volgende dag in hegtenis geneem en het deur die duur van die verhoor in aanhouding gebly.
Hulle het onskuldig gepleit en hul identifikasie as die oortreders betwis, maar is ná die aanhoor van die getuienis skuldig bevind.
Die hof het, benewens die gevangenisstraf, beslis dat albei mans nie geskik is om met kinders te werk nie. Hulle besonderhede sal ook in die Nasionale Kinderbeskermingsregister en Nasionale Register vir Seksoortreders opgeneem word. Hulle mag verder nie vuurwapens besit nie.
Die ondersoek is deur konstabel Lizaan Wanza gedoen. Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het haar vir die deeglike ondersoek en hantering van die getuienis geloof.
Die polisie sê misdade teen vroue en kinders bly ’n prioriteit en doen ’n beroep op slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en seksuele misdrywe om sake by die polisie aan te meld.