Die voorval het omstreeks halfses plaasgevind terwyl die seun glo saam met vriende gespeel het. Sy ouma het nooddienste ontbied.

’n Soek- en reddingsoperasie is van stapel gestuur waaraan die Springbok K9-eenheid, die Namakwa-distrikstaakspan en Nama Khoi-reddingsdienste deelgeneem het. Die Black Mountain-reddingspan het later by die operasie aangesluit.

Reddingswerkers het die seun se liggaam omstreeks 23:00 uit die gat gehaal. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Die SAPD waarsku ouers en voogde om kinders weg te hou van onveilige gebiede, veral mynbouterreine, verlate mynskagte en ander oop uitgrawings. Gemeenskappe word ook versoek om gevaarlike en onbeveiligde terreine by die toepaslike owerhede aan te meld.