Die Valke se Prioriteitsmisdaad Spesiale Ondersoek -span, saam met die Batebeslagleggingseenheid (AFU), het 'n bewaringsbevel teen die Galeshewe-inwoner Andrew Longwane (52) ter waarde van R21 400 verkry. Die bewaringsbevel is op 31 Augustus deur die Kimberley-landdroshof toegestaan ná Longwane se inhegtenisneming tydens 'n klopjag wat deur provinsiale speurders by Thethelestraat in Galeshewe uitgevoer is. Nomthandazo Mnisi, provinsiale woordvoerder van die Valke, het gesê die polisie het 'n deursoek-en-beslaglegging-operasie by die beskuldigde se woning uitgevoer nadat inligting ontvang is wat beweer dat hy deel was van 'n bende wat geld gesteel het tydens 'n gewapende rooftog by die "Bangladesj-snoepie".