’n Noord-Kaapse munisipale amptenaar het direkte tronkstraf vrygespring. Nomava Luwalala (44) , wat as ’n kassier by die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit in De Aar gewerk het, is van bedrog van meer as R120 000 aangekla.  Sy is in Desember 2022 deur die Valke in hegtenis geneem vir die manipulering van die verkeerstelsel en versuim om al die geld aan te teken wat ontvang is. Luwalala is gevonnis tot agt jaar tronkstraf wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat sy nie in die tydperk skuldig bevind word vir bedrog, diefstal of poging tot diefstal nie. Tebogo Thebe, provinsiale Valke-woordvoerder, sê die beskuldigde moet ook die R120 252 in paaiemente van R10 000 terugbetaal. Sy is destyds in hegtenis geneem toe sy vir diens by Hanover se plaaslike munisipale kantoor aangemeld het.