Daniel Wilfred Alberts (38), ’n vermeende moordenaar en kaper wat in Augustus aangekla is van die moord op twee blitspatrollielede in Kimberley, het Woensdag (4/10) in die hof verskyn. Sy saak is tot 29 Januarie 2024 uitgestel. Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Alberts gaan vir 30 dae vir sielkundige waarneming gestuur word. “Die rede waarom dit tot volgende jaar uitgestel is, is omdat die lys baie lank is van beskuldigdes wat deur dieselfde proses moet gaan.” Die polisie het destyds inligting ontvang dat ’n motor in Bloemfontein gesteel is en onderweg was na Kimberley. Sers. Kediemetse Masilo (45) en konst. Okaetse Mandini het die voertuig opgemerk toe dit Kimberley binnery en dit agtervolg.  Die polisieondersoek duur voort.