Die waaksaamheid van lede by die Vioolsdrift-grenspos op Dinsdag het gelei tot die aankeer van 'n manspersoon en die konfiskering van 'n vermoedelik gesteelde voertuig en onverwerkte goud. Brigadier Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder het bevestig dat 'n roetinediens by die Vioolsdrift-grenspos plaasgevind het. Die polisielede het 'n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie deursoek wat RSA verlaat het onderweg na Namibië. Tydens die deursoeking het die polisie ontdek dat die bestuurder bedrieglike dokumente voorgelê het, tydens die ondersoek, het hulle onverwerkte goud met 'n geraamde waarde van R9 500-00 gevind. "Die gekonfiskeerde voertuig word op R1,1 miljoen gewaardeer. Die 42-jarige manlike bestuurder is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde voertuig en bedrog," het Gamieldien gesê. Die verdagte sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.