Inwoners van Wyk 33 in Galeshewe, Kimberley, het ’n bouprojek vir ’n baksteenmuur naby die Galeshewe-daghospitaal gestop nadat hulle die tenderproses bevraagteken het.
Gemeenskapslede beweer die projek, wat glo deur die Sol Plaatje Munisipaliteit toegeken is, is nie behoorlik geadverteer nie en dat ander maatskappye nie ’n kans gehad het om te tender nie. Hulle het die bakstene van die halfvoltooide muur verwyder en in ’n nabygeleë erf gestoor om verdere bouwerk te keer.
Wykraadslid Yvonne Tau sê sy was nie van die projek bewus nie en het ’n ondersoek na die toekenning van die R80 000-tender gevra.
Die maatskappy wat die tender ontvang het, hou vol dit is deur ’n oop bodproses toegeken en sê hulle verwelkom enige ondersoek.