Verskeie werknemers van die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit en twee direkteure van ’n ingenieursfirma het vandag in die Garies-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Die Valke beweer ’n faktuur van meer as R216 000 is in 2024 vir werk wat nie gedoen is nie, betaal, waarna geld glo tussen verskeie rekeninge versprei is. In ’n verwante saak word beweer dat waterpompe ter waarde van meer as R275 000 betaal is maar nooit gelewer is nie.

Die beskuldigdes is op borgtog of waarskuwing vrygelaat. Beide sake is uitgestel tot 23 April 2026 in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Springbok.