Die Noord-Kaapse polisie het die publiek gewaarsku teen die verspreiding van ’n ou SABC Nuus-video uit 2020 wat tans op sosiale media gedeel word met misleidende bewerings oor aanvalle op buitelandse burgers en hul besighede in Upington. Polisiewoordvoerder Mashay Gamieldien sê die video hou verband met ’n protesaksie in 2020 en weerspieël nie die huidige situasie in die provinsie nie. Die polisie meen die video word gebruik om vrees te saai en steun te werf vir die beplande 30 Junie-sluitingsaksie teen ongedokumenteerde buitelanders. Die publiek word aangemoedig om inligting te verifieer voordat dit gedeel word.