Die vermeende moordenaar en kaper die 38 jarige Daniel Wilfred Alberts het in die landdroshof in Kimberley verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, asook die diefstal van ’n motor en ’n skootrekenaar. Die saak teen Alberts is tot Vrydag (16/8) uitgestel vir Alberts om ’n privaat regsverteenwoordiger aan te stel, sê Mojalefa Senokoatsane, Nasionale Vervolgingsgesag woordvoerder. Alberts se sielkundige evaluering is in April afgehandel. Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Die 35 jarige Konstabel Okaetse Mandindi en die 45 jarige sersant Kedimetse Masilo van die blitspatrollie in Kimberley was op 22 Augustus besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.