Die DA in die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit glo die burgemeester en munisipale bestuurder moet aanspreeklik gehou word vir die herrie oor die opknappings aan die Mxolisi Dick Jacobs-stadion. “Ons is nie teen die idee van opknappings gekant nie. Ons loop oor van trots dat Upington City nou vir Upington in ’n hoër liga sal verteenwoordig, ons stem saam met Safa dat opgraderings benodig word en ons sien uit na die nuwe ontspanningsgeleenthede vir Upington se jeug. “Maar ons is egter sterk daarteen gekant dat die munisipaliteit beoog om munisipale geld uit die kapitaalbegroting te gebruik. Hierdie geld is reeds opsygesit vir die broodnodige aankoop van drie watervragmotors sowel as masjinerie vir die herseël en herstel van paaie. Ons kan nie bekostig dat dienste, wat noodsaaklik vir gemeenskappe se gesondheid en veiligheid is, in die gedrang kom nie.