Die familie van wyle Danielskuil DA-raadslid Johannes Baaitjies het gevra dat ’n nuwe ondersoek van stapel gestuur word om die “regte baasbreine” agter hul geliefde se moord, asook die moord op sy sakevennoot Jeffery Nouse te onthul.
Baaitjes en Nouse is in 2016 op die pad tussen Danielskuil en Postmasburg dood.
Baaitjie se suster, Silvia Edwards, het onlangs gesê dat die gesin agt jaar ná sy dood “nog steeds oor hul skouers kyk”.
“Dit is met groot ontsteltenis en pyn dat my broer se moord as ‘n bedingingskyf gebruik word. Ons familie het so hard probeer om sy ontydige en wrede dood te verwerk. Dit is walglik dat sy naam by vieslike dade van binnegevegte en kandidatelyste ingesleep word.
“Sy dood word in elke verkiesing as ‘n bangmaaktaktiek gebruik. Het sy familie, weduwee en kinders nie genoeg gely nie?”
Edwards het bygevoeg dat een van die mans wat skuldig bevind is aan haar broer se moord, sy naam ydelik gebruik het om R10 miljoen van die ANC te ruil.
“My broer was die enigste broodwinner van die gesin. Hy sal nooit weer vir sy gesin kan voorsien nie. Die veroordeelde oortreder het natuurlik sy redes en glo dat sommige mense hom verskuldig is, anders sou hy nie hierdie beskuldigings gemaak het nie.
“Ek was nie van plan om die beskuldigde te glo nie aangesien hy onder eed in die hof gelieg het. Wat hy sê maak egter baie sin.”
Sy het ‘n bandopname van ‘n Artikel 204-getuie herroep wat tydens die verhoor gespeel is.
“Daar is gesê dat die moord nie ‘n ‘plaaslike besluit’ was nie, maar ‘n besluit wat deur ANC-topbestuur geneem is.
“Die getuie het die stelling bevestig dat ‘as Baaitjies daar was, hulle honger sou ly’.
Sy het bygevoeg dat familielede onlangs met die voormalige ondersoekbeampte van die saak – luitenant-kolonel Dolf Lourens – vergader het.
“Hy het ons ingelig oor hoe hooggeplaaste meerderes hom probeer intimideer en met die ondersoek inmeng.”
Edwards het daarop gewys dat een van die staatsgetuies onder “verdagte omstandighede” oorlede is.
“Die bedroefde families het nooit werklik enige slotsom bereik nie omdat die werklike oortreders nooit geïdentifiseer is nie. Ons wag gretig om te hoor van enige nuwe verwikkelinge nadat ‘n oortreder sy verklaring by die Valke ingedien het. Dit sal net regverdig teenoor die families wees as die Valke hierdie eise ondersoek.
“Ons pleit dat die saak heropen word sodat daar uiteindelik geregtigheid vir die Baaitjies- en Nouse-families kan wees.
“Ons prys die Valke en luitenant-kolonel Lourens en sy span vir hul professionaliteit.”
