Die Uitvoerende Burgemeester van die Namakwa Distriksmunisipaliteit, Raadslid Mervin Cloete, het aan NFM Nuus gesê dat die Namakwa Distriksmunisipaliteit baie besig was op Mandela-dag, en hoe dit ‘n geweldige voorreg was om deel daarvan te wees.
“Ek wil vir al die organisasies wat betrokke was by die dag se vieringe dankie sê, dat ons nie vergeet het wat Nelson Mandela vir ons beteken het nie”, het Cloete gesê.
Cloete het in dieselfde asem ook Augustusmaand se ‘vroue-vieringe’ beklemtoon.
Hy het met opgewondenheid aangekondig dat die Noord-Kaapse regering tesame met die President, Cyril Ramaphosa en die Minister van sport, kuns en kultuur, Mnr. Gayton Mackenzie, Vrouedag op Pofadder in die Khâi Ma Plaaslike Munisipaliteit gaan vier.
Cloete het bygevoeg dat hulle daarna uitsien om hul vordering in die bemagtiging van vroue te assesseer.
Hy het ook erken dat hy kennis dra van die ongelukkige gebeurtenis waar daar nog teen vroue – veral in die werksplek, of dit nou in die privaat sektor of in die politieke ruimte is, gediskrimineer word.
