Die Namakwa-distrik het rede om breed te glimlag nadat die matriekklas van 2025 uitslae gelewer het wat getuig van deursettingsvermoë, dissipline en uitnemende akademiese fokus. Oor die distrik heen het skole gewys dat harde werk steeds vrugte afwerp.
Heel bo aan die prestasielys staan St. Anna Privaatskool en Calvinia Hoërskool, wat albei ’n volmaakte 100%-slaagsyfer behaal het – ’n duidelike bewys dat konsekwente standaarde en toegewyde ondersteuning resultate lewer. Kort op hul hakke volg Hoërskool Namakwaland, waar die trotse “Bokkies” met ’n indrukwekkende 95,8%-slaagsyfer die tweede plek in die distrik inneem. Die skool spog boonop met 97 leerders wat vir Bachelor- en Diploma-studies kwalifiseer, ’n besondere mylpaal in hul 160-jarige geskiedenis.
Een van die uitstaande stories van die jaar kom uit Steinkopf, waar Hoërskool Steinkopf ’n merkwaardige sprong van 24,1% gemaak het – van 69% verlede jaar tot ’n skitterende 93,1% in 2025. Met 33 Bachelor-vrystellings het die “Semper Fidelis”-gees nuwe betekenis gekry. Ook Hoërskool Okiep het sterk presteer met ’n stewige slaagsyfer van 89,7%, en bevestig daarmee dat Namakwaland se jongmense gereed is om met selfvertroue die volgende hoofstuk aan te pak.
