Die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Abraham Vosloo, het Donderdag, 11 Junie 2026 vyf voertuie aan die provinsie se Distriksdirekteure oorhandig om die Bana Pele-massaregistrasieveldtog vir Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) te versterk.
Die voertuie sal in al vyf distrikte aangewend word om die Departement se kapasiteit te verhoog om ongeregistreerde VKO-programme te registreer, geregistreerde programme te monitor en te ondersteun, asook om subsidie-aansoeke vir VKO-sentrums te fasiliteer.
Die voertuie sal ook gebruik word om toesig te hou oor die aanwending van subsidies vir voeding van kinders, personeeltoelaes en ander bedryfskoste van VKO-programme.
Verder sal dit ondersteuning aan VKO-praktisyns en die implementering van kurrikulumprogramme versterk.
Volgens die Departement vorm die oorhandiging van die voertuie deel van die Bana Pele-veldtog se doelwit om toegang tot gehalte vroeë kinderontwikkelingsdienste regoor die Noord-Kaap uit te brei en te verbeter.







