Hoërskool Concordia het Maandag, 27 Julie 2026, ‘n dag van trots beleef toe verskeie opvoeders tydens die Namakwa Distrik se District Well-Done-funksie vir hul uitstekende prestasies in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) November 2025-eksamen vereer is.

Die glansgeleentheid, wat by Namaqua Guest Farm aangebied is, is onder andere bygewoon deur die Noord-Kaapse LUR vir Onderwys, mnr. Abraham Vosloo, asook senior amptenare van die Departement van Onderwys.

Tydens die funksie is skole en opvoeders uit die Namakwa-distrik erken vir hul bydrae tot akademiese uitnemendheid.

Hoërskool Concordia het verskeie toekennings ontvang. Juffrou Amor Jacobs is vereer vir Afrikaans, juffrou Consuelo Basson vir Engels, juffrou Vania Cloete vir Wiskundige Geletterdheid, mnr. Denzil Jonas vir Rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en juffrou Marsha Jones vir Toerisme.

Die skool se prinsipaal, me. Maynie Stone-Coetzee, is ook vereer vir die uitstekende Afrikaans Huistaal-uitslae wat haar leerders tydens haar dienstyd by Hoërskool Namakwaland behaal het.

‘n Besondere hoogtepunt van die geleentheid was die toekenning van ‘n spesiale sertifikaat en trofee aan mnr. Denzil Jonas vir sy uitsonderlike prestasie in RTT.

Hoërskool Concordia se RTT-uitslae is as die beste in die Namakwa-distrik en die derde beste in die Noord-Kaap aangewys.

Me. Stone-Coetzee het verder namens Hoërskool Concordia ‘n toekenning in die kategorie vir skole met diversiteit ontvang, wat die skool se verbintenis tot inklusiewe en gehalte-onderwys beklemtoon.

Die LUR vir Onderwys het ook ‘n spesiale trofee aan elke skool in die Namakwa-distrik oorhandig.

Tydens die geleentheid is die doelwit uitgespreek dat die distrik vanjaar ‘n 95%-NSS-slaagsyfer wil behaal, ‘n mikpunt wat skole motiveer om voort te bou op hul sukses.

Die funksie het die toewyding en harde werk van opvoeders en skole in die distrik erken en gevier.

Hoërskool Concordia het sy gelukwense aan al die ontvangers oorgedra en hul prestasies beskryf as ‘n inspirasie vir die hele Blouvlam-gemeenskap.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *