President Cyril Ramaphosa het verlede week in sy openingsrede van die parlement gesê die GNU sal daarop fokus om die pryse van basiese goedere vir Suid-Afrikaners te verlaag te midde van ‘n stygende lewenskoste.
Die koste vir brandstof het ‘n groot impak op die koste van alledaagse items aangesien ongeveer 85% van alle goedere in Suid-Afrika per paaie vervoer word.
Dit beteken dus dat die koste van brandstof n groot impak op ons land se inflasiekoers het.
Op hede betaal verbruikers meer as 25% van die prys van brandstof aan heffings en belasting wat die som van R6.40 per liter uit maak. In die afgelope boekjaar het die Nasionale Tesourie sowat R89 miljard ingevorder uit die belasting wat op brandstof gehef is.
Die Suid-Afrikaanse regering kan petrolpryse verlaag deur onder meer ’n spesiale belasting op monopoliemaatskappye in te stel om die tekort aan die brandstofheffing te vergoed. Dit kan tot ‘n prysverlaging van sowat 35% per liter lei.
Ekonoom, Dawie Roodt stem egter nie saam nie en glo dat die verlaging van die brandstofpryse eenvoudiger kan wees. “Die staat is heeltemal te groot en hoogs onbevoeg, wat duur is. Doeltreffende bestuur en kostebesnoeiing binne die fiskus kan maklik die behoefte aan die huidige vlakke van brandstofheffings verwyder, wat brandstofpryse in die land sal verlaag,” meen Roodt.

