Gemeenskapsgesondheidswerkers, georganiseer as gemeenskapsgebaseerde uitreikspanne van die Calvinia Kliniek (PHC), het onlangs dienslewering by Diepdrift en omliggende plase binne die Hantam Subdistrik begin.
Die inisiatief is daarop gemik om geografiese en ekonomiese hindernisse te oorkom en te verseker dat benadeelde plaaswerkers toegang tot noodsaaklike primêre gesondheidsorgdienste kry.
Tydens die uitreike is dienste soos TB-sifting, MIV-toetsing en -sifting, sowel as gesondheidsopvoedingsessies aangebied.
Deur gesondheidsorg direk na plase te bring, poog die uitreikspanne om gemeenskapswelstand te versterk en vroeë opsporing en voorkoming van siektes te bevorder.


