Die Capitec Springbok-tak het op Maandag, 25 Mei 2026, Hoërskool Concordia besoek waar ’n waardevolle Life Skills-inisiatief vir Graad 11-leerders aangebied is.
Die sessie het gefokus op persoonlike ontwikkeling, finansiële bewustheid en die belangrikheid van ’n positiewe ingesteldheid.
Tydens die interaktiewe aanbieding is die verskil tussen ’n “fixed mindset” en ’n “growth mindset” op ’n praktiese en verstaanbare wyse verduidelik.
Leerders is aangemoedig om oopkop te wees, nuwe moontlikhede te ondersoek en uitdagings as geleenthede vir groei te beskou.
Diara Magerman en Chanté Joseph het ná die aanbieding ’n demonstrasie aangebied om die verskillende denkwyses verder uit te beeld, wat die boodskap vir leerders meer prakties en relevant gemaak het.
Die sessie het ook gefokus op basiese bankwese en finansiële verantwoordelikheid, waar leerders blootgestel is aan verskillende produkte en dienste wat Capitec aan studente bied.
Volgens die skool het die inisiatief nie net leerders gemotiveer om positief oor hul toekoms te dink nie, maar hulle ook bewus gemaak van die belangrikheid van finansiële beplanning.
’n Motiveringsvideo het die dag se boodskap verder versterk en leerders aangemoedig om in hulself en hul vermoëns te glo.
Katelynn van Rooi het die verrigtinge afgesluit deur die aanbieders namens die Graad 11-groep te bedank vir hul insiggewende en inspirerende aanbieding.
Die skool het sy waardering uitgespreek teenoor die Capitec-span, waaronder Latham de Swart, Elriza Marcus, Claudia Links, Jocelyn Wippenaar en Alvin Dyers, vir hul tyd, ondersteuning en waardevolle insette.
Die boodskap van die dag was duidelik: ontwikkel ’n growth mindset en wees oop vir leer, groei en nuwe geleenthede.




