Die LUR vir Gesondheid in die Noord-Kaap, mev. Nontobeko Vilakazi, het ’n aangekondigde toesigbesoek aan die Warrenton Gemeenskapsgesondheidsentrum afgelê as deel van die departement se voortgesette fasiliteitsassesseringsprogram.

Die besoek vorm deel van ’n breër strategie deur die politieke en administratiewe leierskap van die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid om dienslewering by gesondheidsfasiliteite regoor die provinsie te monitor en te verbeter.

Volgens die departement dien toesigbesoeke as ’n belangrike verantwoordingsmeganisme wat leierskap in direkte kontak bring met die werklikhede van dienslewering op grondvlak.

Die assesserings fokus onder meer op infrastruktuur, die beskikbaarheid van medisyne en toerusting, personeelkapasiteit, pasiëntervaring en ander sistemiese uitdagings wat die gehalte van sorg beïnvloed.

Die besoeke bied ook aan departementele leierskap die geleentheid om met fasiliteitsbestuur, gesondheidswerkers op die voorste linie en gemeenskappe in gesprek te tree oor uitdagings en moontlike oplossings.

Die departement het beklemtoon dat die proses deel vorm van die mandaat om ’n gesondheidstelsel te bou wat responsief, verantwoordbaar en gegrond is in die behoeftes van die mense van die Noord-Kaap.

 Dit sluit aan by Premier Zamani Saul se 10-puntplan vir die provinsie, wat verbeterde toegang tot gehaltegesondheidsorg en waardige dienslewering prioritiseer.

Volgens die departement speel die terugvoer en waarnemings tydens besoeke soos dié by Warrenton ’n belangrike rol in toekomstige beplanning, ondersteuning en ingrypings binne die gesondheidstelsel.

Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid sê hy bly verbind tot die versterking van gesondheidsdienste om aan die behoeftes en verwagtinge van gemeenskappe te voldoen.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *