Die LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (CoGHSTA) in die Noord-Kaap, Bentley Vass, het Dinsdag, 23 Junie 2026 die departement se Begrotingspos 9 tydens ‘n spesiale sitting van die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer by Hoërskool Calvinia in die Hantam Munisipaliteit ter tafel gelê.

Vass het die begrotingsrede opgedra aan die Brandweermanne Baleseng Masilo, Obakeng Thakadu en Tshepo Mokhutsane, wat op 12 Junie vanjaar tragies gesterf het terwyl hulle op ‘n noodveldbrand in die Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit gereageer het.

Hy het hul diens geloof en sy meegevoel teenoor hul families uitgespreek.

Die LUR het die departement se strategiese prioriteite en finansiële toewysings vir die 2026/27-boekjaar uiteengesit en beklemtoon dat die ondersteuning van munisipaliteite ‘n kernfokus bly.

Volgens hom is plaaslike regering die eerste kontakpunt tussen die staat en gemeenskappe, en swak funksionerende munisipaliteite het ‘n direkte impak op dienslewering, ekonomiese ontwikkeling en openbare vertroue.

Hy het aangekondig dat die departement voortgaan om munisipaliteite te ondersteun om te verseker dat “Elke Munisipaliteit Moet Werk”.

Die ondersteuning sluit verskeie ingrypings in om munisipaliteite meer doeltreffend en effektief te maak sodat gehalte dienste aan inwoners gelewer kan word.

Op die gebied van menslike nedersettings het Vass die vordering van die DBSA-versnelde Menslike Nedersettingsprojek, ook bekend as die R1 miljard Behuisingsprojek, uitgelig.

Volgens hom is 612 huise reeds aan begunstigdes regoor die provinsie oorhandig, terwyl verdere huise in verskillende stadiums van voltooiing verkeer.

Die projek vorm deel van die provinsiale regering se pogings om waardige behuising aan inwoners te voorsien en geïntegreerde menslike nedersettings te ontwikkel.

Rakende tradisionele leierskap het die LUR bevestig dat die Kommissie van Ondersoek na Leierskapgeskille in die John Taolo Gaetsewe-distrik, onder leiding van professor Mandla Maseko, reeds begin het met sy werk om geskille en leierskapskwessies in die gebied te ondersoek.

Hy het verder bekend gemaak dat die registrasieproses van winterinisiasieskole in die Noord-Kaap afgehandel is.

Die skole sal die naweek van 26 Junie begin, met altesaam 80 ingewydes wat vir die inisiasieseisoen geregistreer is.

Vass het sy toespraak afgesluit deur aan te kondig dat CoGHSTA vir die 2026/27-finansiële jaar ‘n begroting van net meer as R657,5 miljoen ontvang het.

Die fondse sal aangewend word om plaaslike regering te versterk, behuisingsontwikkeling te bevorder, tradisionele leierskap te ondersteun en dienslewering aan gemeenskappe regoor die Noord-Kaap te verbeter.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *