Ter afsluiting van die skoolkwartaal het leerders en personeel van Hoërskool Concordia na ‘n inspirerende boodskap deur Pastoor Albe Smith geluister, wat hulle aangemoedig het om hul harte en die keuses wat hulle daagliks maak, te ondersoek.
Met die eenvoudige, maar diepgaande vraag: “Wat is in jou hart?” het Smith beklemtoon dat ‘n mens se hart die rigting van jou lewe bepaal.
Hy het gesê dat wanneer ‘n hart op die regte waardes gegrond is, dit mense help om goeie besluite te neem, die moed te hê om verkeerde invloede te weerstaan en standvastig te bly wanneer hulle onder druk verkeer.
Volgens Smith word ware karakter sigbaar wanneer iemand kies om die regte pad te volg, selfs al is dit nie die maklikste keuse nie.
Met die skoolvakansie wat voorlê, het hy leerders uitgedaag om doelbewus te besluit watter pad hulle wil stap en gevra: “Watter pad vat jou hart jou?”
Hy het sy boodskap afgesluit deur leerders en opvoeders aan te moedig om hul harte te bewaar, aangesien dit die bron van hul woorde, dade en uiteindelik hul lewensrigting is.
Hoërskool Concordia het Pastoor Smith bedank vir sy tydige en bemoedigende boodskap en alle leerders, personeel en hul gesinne ‘n veilige, geseënde en welverdiende vakansie toegewens.



