Leerders en personeel van Hoërskool Concordia het Vrydag, 26 Junie 2026, op ‘n treffende en opregte wyse afskeid geneem van juffrou Hayley Cloete, wat ná meer as ‘n jaar as opvoeder by die skool gesekondeer is as Vakadviseur vir Toerisme by die Namakwa Distrikkantoor.
Hoewel haar vertrek ‘n leemte by die skool sal laat, is daar terselfdertyd groot trots oor haar welverdiende aanstelling.
Haar bevordering word as ‘n erkenning van haar kundigheid en toewyding beskou, terwyl dit ook die geleentheid bied om haar ervaring en passie vir onderwys met die breër onderwysgemeenskap van Namakwa te deel.
Gedurende haar tyd by Hoërskool Concordia het Cloete ‘n blywende indruk gemaak.
Sy het veral op kultuurgebied uitgeblink en deur haar kreatiwiteit, entoesiasme en passie talle leerders aangemoedig om hul talente te ontwikkel en met selfvertroue aan verskeie aktiwiteite deel te neem.
Haar betrokkenheid by die skoolgemeenskap en haar liefde vir haar beroep het haar ‘n geliefde figuur onder leerders en kollegas gemaak.
Die afskeidseremonie, onder leiding van Quinton van der Heever, was gekenmerk deur emosionele oomblikke en opregte huldeblyke.
Zeenith Cloete en Wihan Gribble het namens die leerders hul dankbaarheid uitgespreek en vertel van die positiewe invloed wat juffrou Hayley op hul lewens gehad het.
Hoewel die skool se hoofdogter, Tyrelle van Rooi, tans die Winterskool bywoon, het sy ook ‘n besondere afskeidsboodskap gestuur wat tydens die geleentheid voorgelees is.
‘n Hoogtepunt van die verrigtinge was toe juffrou Hayley simbolies vir oulaas die skoolklok gelui het, ‘n eenvoudige, maar diep emosionele gebaar wat haar tydperk by Hoërskool Concordia op gepaste wyse afgesluit het en ‘n blywende herinnering vir die skoolgemeenskap geskep het.
Met haar vertrek spreek die skool sy opregte waardering uit vir die verskil wat sy gemaak het en wens haar alle voorspoed toe in haar nuwe rol as Vakadviseur vir Toerisme.
Daar is vertroue dat sy ook in hierdie nuwe hoedanigheid ‘n betekenisvolle bydrae tot onderwys in die Namakwa-distrik sal lewer.
Soos die skool se leuse dit treffend verwoord: “Die Blouvlam brand immers nie net binne die mure van ons skool nie – dit skyn oral waar ons mense gaan dien. Eens ‘n Blouvlam, altyd ‘n Blouvlam.”







