Die Steinkopf-gebaseerde nie-regeringsorganisasie in Namakwa – Top 5, doen ‘n beroep op inwoners, veral vroue, om voorvalle van beweerde teistering by die plaaslike SAPD aan te meld nadat ‘n nuwe bewering oor ‘n vermeende afloerder op sosiale media gedeel is.
Volgens die organisasie het ‘n man hom gisteraand glo onder ‘n kamervenster in Namakwastraat bevind en vreemde geluide gemaak. Top 5 beweer die SAPD is na die toneel ontbied en het die man van die perseel verwyder. Die organisasie sê dit is egter onbekend of ‘n strafsaak geopen is.
Waarnemende adjunkvoorsitter Engella Farmer sê slagoffers behoort formele klagtes in te dien, aangesien dit die polisie in staat stel om op te tree en ondersoeke te doen.
NFM Nuus kon nie die bewerings onafhanklik bevestig nie en wag steeds op terugvoer van die SAPD oor die voorval, asook oor of soortgelyke voorvalle reeds by ander omliggende polisiestasies ook aangemeld is nie.
